Vergeet van alles wat jou onderwysers vir jou op skool geleer het. Vergeet van die reëls wat die slim mense in hul hogere instansies uitgedink het, en bly uitdink. Vergeet ook van ‘n suiwertaal – want dit bestaan nie.
Afrikaans het nie ‘n baas nie en Churchil Naude is behoorlik gatvol vir alles en almal wat diè taal met hul konserwatiewe denkwyses versmoor.
In ‘Die Woord’ bevraagteken hy die oorsprong van die reëls en met die hulp van oudiovisuelestorieverteller Frans Borman word daar vanuit ‘n ander hoek na die taal, ons taal, gekyk.
“Daar is mense wat dink hulle besit die taal, so hierdie kan dalk as ‘n ligte aanval op die instansies wat die taal bly onderdruk gesien word,” reken Churchil wat heel in sy noppies met diè snit van sy nuwe album ‘Kroesified’ is.
Hy beoog om Kroesified vroeg volgende jaar te voltooi.
“Die manier wat mense Afrikaans in Pretoria praat is moerse anders as hie inni Kaap, so wies hulle om te bepaal hoe ek my taal moet praat?”
Churchil het onlangs ook ‘n fees gevra om hulle net so bietjie wyer te maak deur die gemeenskap van Mitchell’s Plein deel van hul 2017 program te maak.
Hulle het hom ignoreer.
Hiermee ‘n uitreksel van die brief: “In Huisgenoot se 100ste jaargang het die tydskrif daarvan melding gemaak dat sowat twee derdes van sy lesers bruin is. Organisasies soos AfriForum gebruik ook graag die feit dat daar meer bruin Afrikaanssprekendes is as ‘n debatpunt, maar stel nie soveel belang in die pleit van die meerderheid wat Afrikaans as hul huistaal beskou nie. So het ek by Cape Town International ‘n ruk gelede besef dat daar nie een bruin skrywer se boek op die plaaslike boekwinkel se rakke was nie. Daar is duisende Afrikaanse feeste, een op feitlik elke dorp, maar in min gevalle val die kollig op bruin kunstenaars. Waar is al die bruin mense op TV? Waarom hoor ek net wit stemme as ek my radio aansit? Waar is die bruin helde waarna my kinders moet opkyk?”
Maar voor jy na die video kyk, onthou egter net een ding, as jy dit nie voel nie, is dit nie vir jou bedoel nie. (musiek deur Riku Lätti)
Bekendstelling, Media
Die Woord (Nie vir sensitiewe tiewe nie)
Bekendstelling, Op Toer
Magiese afskop vir die Wasgoedlyn

Daar is ‘n pragtige lied deur Arlo Guthrie “Alice’s restaurant” waar die geselskap ter sprake meer as een keer ‘n “thanksgiving dinner” ervaar “that couldn’t be beat. Hierdie aand was ‘n verhaal van ‘n konsert that couldn’t be beat.
Vroeër vanjaar het die Wasgoedlyn die voorreg gehad om by US Woordfees en Solms Delta Oesfees met die Klein Libertasteaterkoor (KLTK) op te tree.
Verskeie ontmoetings met die koor later het in vriendskappe ontaard en selfs die herdoping van die KLTK na die Churchil Naude-Koor toe. Sien dié spesifieke rymkletser van Mitchell’s Plain is nie soos die deursnit rapper wat met sy DJ en ‘n paar backtracks opdaag en selfverheerlikende rympies uitspoeg en “sy eie naam roep dat dit weerklink” nie.
Nee, Churchil Naude voel tuis wanneer daar ‘n hele span musikante om hom speel en almal gelyk en lewendig musiek maak waaroor hy dan sy digterlike woorde inbed. En sy woorde is fantasties, dit begin almal nou al weet. Gaan google bietjie wat sê Koos Kombuis oor Churchil Naude.
Die voordurende vriendskaps/werksverhouding tussen die KLTK en Die Wasgoedlyn het beteken dat toe daar sprake was van ‘n huiskonsert met Churchil Naude, Riku en Jackie Lätti en die alombeminde Gert Vlok Nel, was daar net vir omtrent net een dag lank kaartjies beskikbaar. Dolla, die konsert se gasvrou, het spesiaal moes plek maak op haar balkon om mense wat nie kon wegbly nie, ook te akkommodeer.
Gaste is met die soet klanke van Bacchus Nel se nuutse plaat in die agtergrond verwelkom waarna Riku en Jackie, met die hulp van kontrabaskoning Johan Smit, harte warm gemaak het.

Tydens die konsert het Riku ‘n hele paar nuwe liedjies (wat binnekort op CD vrygestel word) vir die eerste keer voor ‘n gehoor opgevoer. Dit was weereens ‘n bewys van die talent en veelsydigheid wat Riku in ‘n klas van sy eie sit.
Vir ‘n voorsmakie van die nuwe album, luister gerus hierna:
Dalk was dit die vonkelwyn, of dalk die watertand tamatiesop, maar teen die tyd wat dit Gert se beurt was om musiek te maak was almal teenwoordig in ‘n besondere goeie gees.
Oudergewoonte is daar ‘n traan of twee tydens diè legende se optrede gestort.
Met Louis Awerbuck, Johan en Riku wat onderskeidelik met mondfluitjie, kontrabas en trekklavier Gert ondersteun het, was dit beslis nie net beautiful in Beaufort Wes nie.
Later het die oomblik waarvoor soveel van die Churchil Naude-Koor lede gewag het aangebreek.
Churchil was spreekwoordelik stomgeslaan toe hy weereens besef het hoe groot impak sy woorde op diè groep mense uit ‘n ander lewensbaan gemaak het.
Die feit dat enige iemand my lirieke terug rap saam met my is fantasties. Ek het nooit gedink ‘n klomp wit tannies van Stellenbosch sou my musiek so goed ken nie. Dis befok.
Die kletsrymer is ‘n wasgoedlyner van formaat en het kort na sy optrede Riku en Jackie bedank vir die bydrae wat hul reeds tot sy loopbaan gemaak het.
Dit is deur die Wasgoedlyn dat ek nou my album uit het –dit is ‘n befokte initiatief wat Riku begin het en die feit dat dit van die hart af kom, en jy kan sien dit kom van die hart af, is die rede waarom ek deel is daarvan.
Die Wasgoedlyn word vandag, 19 Julie, tussen Strand en Groot Brak gespan waar Petronel Baard en Stef Kruger by Black Vanilla vir nog soet klanke sal sorg.

Bekendstelling
Welkom by Die Wasgoedlyn
Die Wasgoedlyn? Klomp jaar gelede het Riku Lätti verskillende musiekkunstenaars, sommige bekend, sommige minder bekend, oral oor Suid-Afrika begin opneem. Die kunstenaars het begin sing op mekaar se liedjies, en so is nuwe spore neergelê, spore wat uiteindelik gelei het tot die samestelling van Die Wasgoedlyn CD.
Die Wasgoedlyn TV program gaan dieselfde organiese, swerwende, verkennende, eg menslike skeppende waardes dien en prosesse volg. Ons gaan kyk waar van Afrikaans se mooiste liedjies regtig vandaan kom, soos ons kuier van agterplaas tot agterplaas, wasgoedlyn tot wasgoedlyn.
Recent Comments