Op Toer
Die Wasgoedlyn loer in by Misty Waters Musiekfees

Dis oppad Mei toe en Misty Waters Musiekfees het die Wasgoedlyn genooi om bietjie te gaan inloer om te kyk wat alles daar gaan gebeur en om bietjie van daai gees en musiek aan die lyn te kom hang. En ons is opgewonde, want wanneer laas was ek by ‘n fees net om te gaan kyk en luister, te hoor en sien? Jarre laas, ek dink dit was nog Houtstok in die 90s. En dit was great, want ek het my hero’s daar gesien, Anton Goosen saam met die Kommissie van Ondersoek, Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis, Live Jimi Presley, Joos Tonteldoos en die Dwarstrekkers (Paul Riekert se alt-Afrikaanse-rock band wat later Battery 9 op die been gebring het) Nico Carstens het gespeel en ek het gedink dis kwaai dat hy saam met al die rockers daar opgetree het. Die show wat uitgestaan het was KOOS. Nie Koos Kombuis nie, (met apologie aan André Letoit want hy is en sal altyd een van my gunsteling singer-songwriters bly), nee die band se naam is eenvoudig net KOOS. Ek het my vergaap aan die band, ek was nog op skool, om presies te wees, standerd 9 (dis graad elf vir die jonger genes onder ons). Ek het nog nooit van tevore sulke anargistiese punk musiek gesien nie, en dit boonop alles in Afrikaans. Ek sou meer as twee dekades later met hoofman van KOOS, Marcel van Heerden werk en steeds soos daai hopelose kind sy eie lirieke aan hom terugsing en hom vertel hoe hy my lewe verander het.
Intussen het ek talle feeste bygewoon, maar om self te gaan musiek speel en dan verander alles. Ek meen jy moet konsentreer op jou eie optrede en eers daarna as jou show afgehandel is, kan mens bietjie ontspan, en dan ontspan mens gewoonlik te veel te vinnig, want jy voel veral verlig omdat die stres rondom jou optrede verby is en die euforie daarvan is gewoonlik hoog en jy moet een of ander tyd terugkom, af, af, af al die pad aarde toe. Dis wat kunsmaak aan mens doen, hou vas, dis ‘n wille rit. En daarna, wel, daarna konsentreer ek nie meer nie, ek is gewoonlik so vasgevang in die sweer daarvan dat ek jou gewoonlik net kan vertel dat dit moerse lekker was, maar nooit in detail kan rekenskap gee van wat gebeur het nie.
Die grootste en kleinste feeste wat ek al ooit by opgetree het was altwee in die buiteland. Die Dranouter World Music Festival was by verre die grootste. Daar het ek opgetree vir die grootste gehoor nog ooit in my lewe. Maar die hoogtepunt van daardie fees was die aand toe Sinead O’Connor gesing het, toe het ek gehoor hoe dit klink as 80 000 mense saam sing: “Nothing compares to you”. Ja dit het ‘n merk op my siel gekerf. Daarteenoor is STRAB in Mosambiek die kleinste. Ek is nie honderd persent seker nie, maar ek dink daar word slegs 900 kaartjies verkoop. So dis ‘n klein fees en na die naweek ken almal omtrent mekaar. En dis by die see, en Conrad Jamneck maak seker dat net die beste musikante daar optree, so die musiek is uit die boonste rakke. Op die oomblik is STRAB my gunsteling fees.
Maar wat is die toestand van musiekfeeste in Suid-Afrika deesdae? En musiek bedoel ek bands en musikante, nie DJs en Karaoke nie. Is daar nog ‘n scene? Hoe gaan dit met Oppikoppi? Ek was so lanklaas daar. Dit was altyd ‘n hoogtepunt op die kalender. Die bands in die bosveld. Dis ‘n ervaring wat selfs in die buiteland berug is. Ek het getoer in Nederland en na optredes het mense my kom vra hoe is dit by Oppikoppi. Ek kon nie antwoord behalwe deur te sê jy moert self gaan nie, want vertel jy van die stof, die skroeiende son, die dorings onder jou tent, sal jy beswaarlik mense kan oortuig om te gaan. Maar hoe verduidelik jy aan ‘n vreemdeling dit gaan oor die gees en hoe gebruik mens slegs woorde om die magic van musiek oor te dra? Anyway, woorde daarvoor is onvoldoende, kyk liewer bietjie wat het ons laas daar aangevang op ons Wasgoedlyn Mobile Stage:
Hier in die Kaap gaan dit maar sleg met die feeste. Die beste fees, die Oesfees in Franschhoek, is dood. Daar kon jy verwag om altyd kwaliteit musiek van alle gemeenskappe te sien. Ek dink dis ook byvoorbeeld die enigste fees gewees waar groot sterre soos David Kramer en Stef Bos opgetree het met gewone mense, sangers en onbekende musiekmakers van die plase van die omgewing. By geen ander fees het ek dit ooit weer gesien hier rond nie. Die KKNK doen uitstekende werk as dit by dramaproduksies kom, maar wat musiek betref staan KKNK vir Kom Kyk Na Kak. Dis Karaoke, Kommersiële Afrikaanse Kultuur en Karen Zoid. Karen is koel, maar sal jy net vir haar al die pad Oudtshoorn to piekel? Maar moenie my woord daarvoor vat nie, ek was in die laaste paar jaar nie weer terug om te gaan kyk het of dinge verander het nie. Once or twice bitten, shy for many years, of hoe lui die gesegde? Ek sien darem Frazer Barry (van Tribal Echo) het verlede jaar ‘n Kanna gewen daar vir hul produksie “’n Lepeltjie vol snare” met oom Hannes van David Kramer se Karoo Kitaar Blues. Ek, wat al baie met Frazer gewerk het, kan persoonlik getuig dat hy een van die beste liedjieskrywers in Afrikaans is. En ek hoor Churchil Naude tree ook op by hierdie jaar se KKNK, so dit lyk darem of dinge in ‘n regte rigting beweeg. As jy daar kom en jy hoor van lekker musiek, laat my weet, ek wil graag hê dinge moet beter wees as wat dit was.
Ek hoor Up The Creek is lekker. Ek was nog nooit daar nie. Dit lyk moerse koel met al die bootjies wat dryf op die water. Ja nee, ek sal moet gaan sometime. Ek het nog altyd die Woordfees in Stellenbosch geniet, maar dis glad nie vir my ‘n fees in die festival sin van die woord nie. Eerstens is daar nie een terrein soos by Misty Waters of Oppikoppi nie. Nee, dis meer soos ‘n Woordweek in Stellenbosch, waar jy uitstekende produksies kan gaan beleef in die pragtige en gesofistikeerde lokale in Stellenbosch. No roughing it, maar ook nie die samehorigheid en solidariteit wat kom van die gemeenskaplike meemaak van ‘n rockfees soos Misty Waters nie. En dit liewe vriende, is hoekom ons so opgewonde is om te gaan kyk waat gaan aan by Lake Umuzi in Mpumalanga waar Misty Waters Music Festival gaan rock van 10 tot 12 Mei 2019. Die bestuur het ons laat weet dat almal welkom is om tot Maandag die 13de te kamp.
Die line up klink spektakulêr: Fokofpolisiekar, Albert Frost, Black Cat Bones, Taxi Violence, Tidal Waves, Basson Laubscher and the Violent Free Peace het ek al baie gesien en kan ek aanbeveel om te gaan uitcheck. Kyk byvoorbeeld Albert Frost wat die SAMA gewen het vir die beste Rock album verlede jaar. Vir hom het ek ewige respek. Hy het saam met my Smoorverlief Oppikoppi gedoen in 2009. En jare later het hy by Wasgoedlyn Backsberg, toe my guitar-amp halfpad in die show die gees gee, die hele show op sy eie gedra, sonder dat enige iemand eers geweet het dat iets gebeur het. Ons het met hom gaan gesels om te hoor waar dit alles begin het en hy het ongelooflike kennis van SA se musiekgeskiedenis, wat hy met ons gedeel het. Hier is ‘n klein uittrekseltjie van daardie samewerking:
Wat kan mens sê oor Fokofpolisiekar wat almal nie alreeds weet nie? Hulle is die GROOTSTE Afrikaanse band in Suid-Afrika, hulle praat vir hulself. Taxi Violence het ek vir die eerste keer gesien in ‘n gepakte venue in Johannesburg en hulle het die plek omgedolwe met hul mal energieke ruk en rol. En dan is hulle doodeenvoudig die aangenaamste siele wat jy kan ontmoet. Basson Laubscher is fenominaal. Hy het gespeel in Zinkplaat, ‘n Afrikaanse band wat ek verskriklik baie lief het. Sy nuwe stuff met die Violent Free Peace showcase, sy next level guitaring. Uitstekend. Dan die Black Cat Bones, ai, wat sê mens oor die Bones, weet julle dat hulle jaarliks kos en geld insamel vir ‘n weeshuis in Mosambiek? Rockers met harte. Ons het ook gaan inloer by Kobus de Kock Jnr. Kom ons praat liewer nie, kom ons luister eerder bietjie hier waar hy hartroerend gestroop sing:
Tidal Waves verdien ‘n plek in SA se reggae hall of fame en luister jy na “Lekker lekker dans” sal jy verstaan as hul voorsanger, Jakob, sê: “Die wat nie kan Afrikaans praat, hy moet nou loop jong”. Tidal Waves beteken partytjie. Tidal Waves alleen is genoeg rede om na Misty Waters toe te gaan.
Dan is daar ‘n hele lys bands waaroor ek nou eers my huiswerk moet gaan doen waarna ek uitsien om te hoor by Misty Water, ek noem maar net (jy ken hulle tien teen een beter as ek, laat my gerus maar weet). Ek luister op hierdie oomblik na Wolfgang Marrow, en dis musiek met passie, lekker guitaring en sielvolle manlike en vroulike sang, sien uit om dit op die verhoog te sien. Tjek dit bietjie:
Dan is daar Don’t poke the bear, FlØris, Adele Nqeto met ‘n pragtige stem, Zebra, Raygun Royale, Hellcats.
Maar wie ek graag volgende op die Wasgoedlyn wil sien is Sean Koch, luister bietjie hier en kyk na hierdie incredible video:
Ek het nog nie naastenby by almal uitgekom nie, oe, dit gaan sielsverrykend lekker wees. Kom soek ons bietjie op by Misty Waters by Lake Umuzi in Mpumalanga 10 – 12 Mei.
Vir meer info oor kaartjies, verblyf, bands etc gaan na: https://mistywaters.lakeumuzi.co.za/
Comments are closed
Recent Comments