Die Wasgoedlyn is ‘n kultuur-historiese-mooimusiekdokumentêrreeks, waar Riku Lätti Afrikaanse musiekkunstenaars, bekend en minder bekend, in hul agterplase besoek. Daar waar die bier koud is en die musiek soos ‘n bergstroompie borrel.
Ervaar raar oomblikke, Piet Botha wat sing op Lanseria lughawe en amper sy vlug verpas, Liela Groenewald wat sing in ‘n plakkerskamp in Lenasia, die Mitchel’s Plain bymekaarkoms wat ontaard in ‘n kulturele uitruiltransaksie, Andra tuis, tussen die lappe en hoede van oral, Gert Vlok Nel, nugter, Andre van Rensburg die Sjinese boertjie onder die sterre op ‘n dak in Hillbrow, Ryno Velvet en Willim Welsyn saam met Dana Snyman, Laurinda Hofmeyr en Johan Bakkes in ‘n tabakskuur in die Paarl, Dozi op sy plaas, Francois van Coke wat verbaas, en en en…
Op Die Wasgoedlyn sien jy alles wat jy nog nooit op televisie gesien het nie. Die kunstenaars in hul natuurlike habitat, by hul eie huise, om braaivleisvure saam met vriende, musiek maak, grappies maak en Afrikaans in net soveel meer fasette laat sing en praat.